Bakenshoogte is ‘n 5.5 ha plasie, wat afgesny is van een van Botrivier se historiese plase, nl Compagniesdrift. Ons lê teenaan die N2 op die pad na Hermanus. Die ander bure is die Kogelberg natuurreservaat en Wildekrans wyne.
Bakenshoogte is die trotse eiendom van Johan en Wilma Punt. Ons twee seuns, Gilbert en Hendri, asook ons baie energieke bloedhond, Jake, vorm deel van ons familie. Die verweerde tafelbergsandsteen is ‘n goeie pasmaat vir ons olyfbome. Die eerste boord is gevestig in 2005 en in 2006 is ‘n tweede boord aangeplant. Waarom olyfbome sou u waarskynlik vra? Ons het baie dinge probeer – selfs pragtige wit dorper-stoetskape – maar ongelukkig proe ‘n stoetskaap se vleis dieselfde as enige ander skaap s’n! So… olyfbome was ‘n opsie, want wie eet nou olywe vanaf die bome? Buitendien het Johan iets gesoek om sy vrou uit die onderwys te kry en meer by die boerdery te betrek!
Die olyfboord bestaan uit Italiaanse olyfvariteite en bestaan uit die vlg: 50% Frontoia, 30% Leccino en 20% Corotina. Klein aanplantings van Favolosa en Nocellaro word tansgedoen om ‘n verdere vrugtige en neutsmaak in die olie te bring.
Die olyfboom is ‘n heilige boom wat dateer uit die Bybelse tye en daarom word ons bome met groot respek en liefde hanteer!
XXY Vleis
Sedert ons die Dorper skape geskuif het vanaf Bakenshoogte na ons familieplaas , Grootfontein, het ons onverpoosd gewerk om ‘n skaapkudde op te bou, sodat ons hierdie heerlike vleisproduk met u kan deel.
Grootfontein is geleë in die Dewetsdorp distrik, ‘n klein dorpie suidoos van Bloemfontein. Hier boer ons met Simbra beeste, asook vleismerino skape. Ons voorouers was merino boere, maar ons wou meer konsentreer op die produsering van vleis.
XXY is die merk waaraan ons diere geken word, daardeur behou ons die naspeurbaarheid van ons vleis. Ons diere wei hoofsaaklik op die natuurlike grasse van die Vrystaatse vlaktes, waaronder Rooigras (Themeda Triandra), Oulandsgras (Eragrostis Curvula), Hartjiegras (Eragrostis Racemosa), Borseltjiegras (Anthephora Pubescens), KweekPaspulum, waterkweek (Paspulum Distichum), bruin hoenderspoor (Eustachus Paspaloides) en vele meer. Elkeen van hierdie grasse dra by tot die besondere smaak van die vleis in die Vrystaat.
Ons vleis bevat geen MSG, water of enige ander bymiddels nie, slegs skaap en beesvleis en GEEN vark nie. Ons diere kry nie hormoonbehandeling of roetine antibiotika nie. Die wors word gemaak volgens tradisionele familie resepte met heerlike sout uit die Kalahari.
